Massahout

Verminder ingeslote koolstof en maak opmerklike vordering met houtgeboue.

5 minute

Massahout

Volhoubare massahout is op verskeie maniere by Gradient Canopy ingeskakel, onder meer in die bekisting, skutrelings en deure. Foto: Mark Wickens.

By Gradient Canopy, waar ons International Living Future Institute (ILFI) se sertifisering Living Building Challenge (LBC) Materials Petal gekry het, was dit van die grootste belang om maniere te kry om niegiftige materiale en materiale wat die ekologie herstel, te inkorporeer. Gevolglik het ons maniere verken om massahout wat volhoubaar verkry is, in die gebou te gebruik om hout se herskeppende, koolstofsekwestrerende eienskappe te benut.

Massahout is ’n konstruksietegniek waarin hout gebruik word wat saamgepers is om pilare, balke, mure, vloere en dakke te skep op ’n manier wat ingeslote koolstof kan verminder vergeleke met tradisionele boutegnieke. Massahout beklee uiteindelik ’n prominente plek in die gebou, en wat ons hier geleer het, het gehelp om ander konstruksieprojekte by Google te rig.

Ons stel al ’n ruk lank in die potensiaal van massahout belang omdat die biofiliese eienskappe daarvan gesonder, produktiewer, visueel inspirerende werkplekke bevorder. Biofilie gaan daaroor om die natuur in ontwerp in te skakel om ruimtes te skep waar mense floreer, en om elemente van blootgestelde hout binne die gebou te inkorporeer, verminder nie net die behoefte aan bykomende materiale, soos deklae en verf nie, maar help mense ook om aan die natuur verbind te voel, selfs wanneer hulle binne is. Toe ons Gradient Canopy begin ontwerp het, het ons daarom aanvanklik die moontlikheid ondersoek om massahout vir die hele struktuur van die gebou te gebruik, maar bevind dat die lang spannings wat ons wou hê, nie moontlik was nie. Ons kon egter steeds hout vir sommige van die strukturele elemente binne die gebou gebruik.

By Gradient Canopy neem massahoutelemente die vorm van kruisgelamineerde houtlede (KLH) aan – ’n soort gestruktureerde hout wat gemaak word deur veelvuldige lae soliedgesaagde timmerhout aanmekaar te plak om beter strukturele stewigheid te bewerkstellig. Ons het met KLH as die bekisting (gietvorms waarin beton gegiet word) vir die tweede verdieping se betonvloere begin waar dit saamgestelde sterkte verskaf. Ons het dit op só ’n manier geïntegreer dat die KLH net daar gelos is om ’n dubbele nut as ’n plafon van blootgestelde hout vir die ruimtes op die grondverdieping en skutrelings rondom die binnehowe te hê, pleks van om dit te verwyder en weg te gooi, soos gewoonlik gemaak word nadat die beton hard geword het. Hout word ook oral in die gebou vir die deure en deurkosyne gebruik, veral vir vergaderkamers en -lokale. Daarvoor kon die span met die verskaffer saamwerk om ’n Declare-etiketsertifikaat vir die hele deurmontering te verwerf, wat ons help om boumateriale te prioritiseer wat veiliger chemie bevat om ’n gesonde binneomgewing te skep.

Foto: Mark Wickens.

Ons het die bekisting van kruisgelamineerde hout behou om ook as ’n ontblote houtplafon vir die grondverdiepingspasies en skutrelings rondom die binnehowe te dien. Foto: Mark Wickens.

Toe ons Gradient Canopy begin ontwerp het, was KLH nog nie vir strukturele elemente met só ’n groot omvang in Mountain View gebruik nie. Ons het daarom in daardie vroeë fase ’n volskaalse proefmodel van die KLH-elemente gemaak en stadsamptenare genooi om self die struktuur te bekyk en te ondersoek om seker te maak dat dit aan hul vereistes voldoen. Die bou van fisiese prototipes het ons gehelp om saam te werk om ’n oplossing te kry wat aan die stadsvereistes voldoen, terwyl dit ook help om in die rigting van meer volhoubare maniere van bou te beweeg.

Ons het ook seker gemaak dat die hout wat ons in die Gradient Canopy-gebou gebruik het, volhoubaar verkry is. Meer as 99% van die nuwe timmerhout wat by Gradient Canopy gebruik is (sowel tydelik as permanent geïnstalleer), is verkry vanaf woude wat deur die Forest Stewardship Council (FSC) gesertifiseer is dat hulle verantwoordelik bestuur word. Dit is ongewoon om FSC-gesertifiseerde hout te verkry vir tydelike gebruike, soos bekisting, wat dan weer vir toekomstige projekte gebruik kan word. Met die wete dat tydelike hout ’n groot persentasie van die timmerhout in die projek verteenwoordig het, was dit egter belangrik om ook van die gebruik van die tydelike hout rekenskap te doen. Om hout wat deur die FSC gesertifiseer is, te prioritiseer, beteken nie net dat die timmerhout wat ons gebruik, verantwoordelik verkry is nie, maar ook dat ons groter pogings tot herbebossing ondersteun. Ons glo uiteindelik dat gesonder materiale wat verantwoordelik verkry is, nie net ’n grondliggende aspek van volhoubare ontwikkeling is nie, maar ook van die skepping van ’n groter sirkelekonomie wat konsekwent hergenererend en herstellend is.

Massahout word by Gradient Canopy geïnstalleer.

Massahout word by Gradient Canopy geïnstalleer.

Die navorsing oor massahout wat ons tydens die ontwerp van Gradient Canopy gedoen het, help nou om die ontwerp van ander Google-geboue te rig. Ons het byvoorbeeld so pas 1265 Borregas in Sunnyvale, Kalifornië, geopen wat ons eerste volledige massahoutgebou is. Daar word geskat dat dit 96% minder ingeslote koolstofuitlatings as ’n gelykwaardige struktuur van staal en beton sal hê as sekwestrasie in ag geneem word. Dit is net een voorbeeld van hoe dit wat uit Gradient Canopy geleer is, ons pogings verbeter het om meer volhoubare en gesonder geboue te ontwerp.